Jakkalsdraaie tussen die Duine
Mesoma is dik ge-eet aan die rooibok lammetjie wat hy en sy jong vriende gevang het. Bloed net waar jy kyk en het die dom ding geskree! Die lammetjie se mamma en pappa het in sirkels gespring. Maar wat, wie gee tog om? Ons rooi jakkalse kan mos enige ding doen! Die spul slaap nog hul roes af, maar Mesoma is al weer lus vir nog pret. “Ag wat, laat hulle snork, ek weet wat ek gaan doen en gaan dan heerlik spog by hulle en al die meisies gaan net myne wees!” Hy rek homself uit, ruik in die wind en luister fyn, “Ek het dit! Ek gaan die hele trop meerkatte vang en hulle opsluit en elke dag ene vir ontbyt kom haal!” Hy draf skuins die weste windjie in, die Kalahari duine strek vêr voor hom uit, die lewe is ’n lied! Intussen, liewe maatjies wat gebeur in die duin? Hier woon die troppie meerkatjies al lank en gelukkig saam, niemand kon nog ooit enetjie seer maak nie, want hulle brandwag is dag en dag op haar pos, as sy roep, skarrel ons vinnig in ons tonneltjies in, si...