Hallo maatjies!
Elke jaar die tyd roep die Feëkoningin mos al die nuwe
feetjies bymekaar. Almal buig diep en gaan sit en sy maak haar keel skoon,
“Welkom hier vandag in die paleis liewe feetjie maatjies. Soos julle weet, leer
ons vanjaar om rêrige feetjies te wees sodat ons alles om ons mooi kan maak.”
Sy kyk op en af en sê toe, “Vir nou gaan ons by die diere
leer en elkene sal vir haar ‘n dier gaan uitsoek met wie jy dinge gaan leer.
Hoe om boom te klim, hoe om weg te kruip en waar om lekker kossies te gaan
soek. Toe weg is julle!”
Sannie se koppie dwaal mos en sy hoor weer net die helfte.
Die ander feetjies vlieg op om die oulikste diertjies eerste op te eis.
Normatjie natuurlik die koala. Terwyl kort op haar hakke Ingridjie, wat met
haar armpies om die steenbokkie staan. Die eekhoringkies, koedoetjies en baba
leeutjies almal opge-eis en toe Sannie wakker skrik, wat bly oor?
Net Borra ... ai toggie net nie dit nie, die lelikste
diertjie in die hele woud ...
Sannie is nou met hom opgeskeep en sy is sommer vies vir
alles. Die ou kan nie eens praat nie, hy snork mos net!
Hoe ook al, sy en Borra stap toe maar daardie dag in die woud
toe die vreeslikste ding gebeur. ‘n Groot gat val in die grond onder hulle en
daar val Sannie en Borra!
“Helllppp, helllp” gil hulle. Haar vlerkie breek af en sy kan
nie eens vlieg nie. Maatjies, wat dan nou?
Gelukkig is daar onder ‘n klomp blare en hulle val darem nie
te seer nie. “Borra! Borraa! Praat met my!”
“Ughhh!” snork die lelike outjie net.
“Wat nou Borra? Wat gaan van ons word?”
Borra skud sy dik koppie ’n paar keer en kyk lank en diep na
Sannie, “Liewe Sannie, jy was al een wat vir my omgegee het, ek sal na jou kyk,
moenie bang wees nie. Ons gaan vandag hier uit kom ek belowe jou, afvlerkie of
te nie!”
Maatjies julle sal my nou nie glo, Borra, met daai lelike
tande langs sy mond en al, begin ‘n tonnel grawe! “Kom Sannie!”
Hy grou en grou en grou en die arme Sannie kruip in die
donker gat, alles vol modder, agter hom aan.
Dit voel soos ure en toe, “Borra! Kyk daar, daar is ‘n lig
aan die einde van die tonnel!”
En daar, ek weet julle sal my nou nie glo nie, grawe Borra sy
tonnel en hulle klim reg voor die paleis op die koningin se grasperk uit!
***
Die seremoniemonster, ou Drakus, blaas sulke vuurtonge deur
sy neus en staan op. “U majesteit, liewe feetjies en diere maatjies. Welkom by
ons jaarlikse goue ketting oorhandiging."
Die feëkoningin stap op, haar lang purper rok te mooi en in
haar hande die groot goue ketting. Norma met Koos die koala en Ingrid met Sarel
die steenbokkie maak hul reg vir die groot oomblik ... maar ooo neee ...
“Ons toekenning vir dapperheid en die een wie mooiste dinge
vir ‘n nuwe feetjie geleer het gaan vanjaar aan
... sit julle vlerkies en pootjies bymekaar vir ..."
Sy bly lank stil en toe ... "vir BORRA die ou
vlakvarkie!”
Opmerkings
Plaas 'n opmerking