KATONKIE LEER VLIEG

 


 “Kom nou Kantonkie man, jy is so mooi groot en jy vlieg nou nog nie, ag nee man.” sê mamma, terwyl sy haar lang swart vlerke wyd uitsprei.
“Ja! Ek dink ook so, ‘n witkruisarend wat so oud soos jy is moet lankal kan vlieg en help kos soek. Toe ek so oud soos jy was het ons al tot by Aasvoëlkop en terug gevlieg. Ag nee man ...”
“Maar pappa en mamma, kyk net hoe hoog is ons nes teen die krans, sê nou ek val teen daardie vreeslike klippe?”
“Hoe ook al, wees soet, ons moet gaan kos soek. Sit jou vlerke op jou kop as jy ou Griffa sien, hy is aaklig en onthou kransaasvoëls vang baba arendjies ...”
 
Katonkie is moedeloos en dink, “Ek is ook niks werd nie ...”
Net toe gebeur dit! ‘n Donker skaduwee val op hom en hy skrik, “Dis seker Griffa!”
Hy kruip diep in die nes in en hou sy koppie met sy vlerkies toe.
“Hallooo, halloo!” hoor hy ‘n stem kwaak. Hy loer versigtig uit, wie kan dit wees? ‘n Pragtige spierwit swaan!
Die swaan kom sit op die rand van die nes en Katonkie sit penorent. “Sjoe, maar jy is darem pragtig, kyk net jou lang snawel en die mooi velle tussen jou tone!”
“Aangename kennis, my naam is Signus. Hoekom sit jy alleen in jou nes?"
“Oom Signus, my mamma en pappa het gaan kossies soek, maar ek is te bang om te vlieg nou spot almal mos met my. Dis sleg oom!”
 “Klein Arendjie, luister nou mooi hier. Toe ek ‘n baba was het elke liewe dier kom lag. Hulle het my Ou Lelike Eendjie genoem, maar my oupa het elke dag gekom. Oupa het my gehelp om my vlerkies te oefen, my gehelp swem en elke dag kom kyk. Ek het so hard gewerk en vandag is ek die Koning van Swaneland!”
“Sal oom my help, oom?”
“Katonkie jy kan ook!! Dis hoekom swane daar is, om ander ouens te help om hul heel beste word. Kom klim nou op my rug en as ek sê ’spring’ dan spring jy en probeer vlieg. Ek sal heeltyd onder jou wees om jou te vang. Kom klim!”
Hulle styg op en op en Kantonkie sien die pragtige vallei onder hulle. “Reg! Katonkie, spring!”

Later kom mamma en pappa terug met die aandkossies. “Waar is Katonkie? Waar is hy? Griffa het hom gevang! Aggg Neeee!”
Pappa hou haar styf vas en sy huil vreeslik want haar seuntjie is dood.
Hy vou sy vlerke om haar ... toe ... daar is ‘n skaduwee, hulle kyk op ... hulle huil en lag van trots want ... 
Hoog bo hulle sweef die nuwe Kroonprins van die Arendeland !!!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Ons Kindervriend

Sprokie vir ‘n Woudkind