Jakkalsdraaie tussen die Duine

 


 


Mesoma is dik ge-eet aan die rooibok lammetjie wat hy en sy jong vriende gevang het. Bloed net waar jy kyk en het die dom ding geskree! Die lammetjie se mamma en pappa het in sirkels gespring. Maar wat, wie gee tog om? Ons rooi jakkalse kan mos enige ding doen!

Die spul slaap nog hul roes af, maar Mesoma is al weer lus vir nog pret. “Ag wat, laat hulle snork, ek weet wat ek gaan doen en gaan dan heerlik spog by hulle en al die meisies gaan net myne wees!”

Hy rek homself uit, ruik in die wind en luister fyn, “Ek het dit! Ek gaan die hele trop meerkatte vang en hulle opsluit en elke dag ene vir ontbyt kom haal!”

Hy draf skuins die weste windjie in, die Kalahari duine strek vêr voor hom uit, die lewe is ’n lied!

Intussen, liewe maatjies wat gebeur in die duin? Hier woon die troppie meerkatjies al lank en gelukkig saam, niemand kon nog ooit enetjie seer maak nie, want hulle brandwag is dag en dag op haar pos, as sy roep, skarrel ons vinnig in ons tonneltjies in, sit klippe voor die ingang en niemand een van ons nog vang nie.

Soos altyd sit Surika op die punt van die duin. Sy is helder wakker want die troppie is haar verantwoordelikheid.

Van dat Kata deur die jakkals gevang is toe hy ons almal beskerm het, kyk haar mamma na klein Sorrie terwyl sy wag hou. Surika verlang soveel na Kata, maar ai siestog, Sorrie is tog so gelukkig by ouma!

Sy kyk van horison tot horizon, iets pla haar van môre, wat is dan verkeerd?

“Wat is dit ?” fluister sy. Toe die ou groot rolbos oorkant die vlei begin dan draai ...

“Hier is dan amper geen wind nie, hoekom rol dit dan?” dink sy, “laat ek gaan kyk.”

Sy staan lank op haar agtervoetjies, ruik en kyk, “die rolbos rol en dit rol hierheen!”

Surika val op haar voor voetjies en sy hardloop vinnig van bossie tot bossie, sy hardloop en hardloop totdat sy die bos van agter kan sien ...

“Dis dan Mesoma in daardie bos! Die skelm, hy bekruip ons so en nes die babatjies uitkom gaan hy almal vang en eet, ek moet iets nou doen!”

Surika krap haar koppie en toe, “ek weet wie gaan my help!”

Intussen maatjies, rol die bos en dit rol al nader aan die duin huis van die meerkatjies. Wat nou? Wie gaan ons red?

Van vêr sien Surika hoe Sorrie, haar ouma en al haar maatjies by die tonnels uitkom om kossies te gaan soek.

“Haai kyk daar, ouens!” sê Sorrie, “kyk die rolbos wat hier aankom, kom ons gaan speel daarmee, kom ouens!”

Binne die rolbos slyp Mosema sy lelike geel tande, “nou gaan ek julle gryp!”

En toe ... “BRULLLLL!!”

Dis Gaza die gemsbok wat met sy horings laag op die grond aanstorm! Hy steek dit onder die rolbos in en tel alles hoog op. Hy draf en draf op tot by daardie groot krans, hy laat sak sy kop en daar val die rolbos vêr, vêr tot binne die groot dam!

“Helllp, Helllp!” gil Mesoma vir laas.

En toe ... die meerkatjies het lank en gelukkig in hul duin gebly en geen rooijakkals het ooit weer daar gekom nie!

 

Nawoord:

 

Die meerkat (Suricata suricatta) en Nederlands, “die kat wat in die dam woon”, bly in groepe van tot 20 saam. Hulle maak saam kleintjies groot, daar is brandwagte en woon in tonnels onder die grond.

Die rooijakkals (Canis mesomelas) bly as paar saam vir hul lewe. Alleenlopend behalwe as hulle troppe vorm om groter diere te vang.

Die gemsbok (Oryx gazella) het lang horings en woon in die droeër dele van ons land.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

KATONKIE LEER VLIEG

Ons Kindervriend

Sprokie vir ‘n Woudkind