ʼn Kissie vol Soentjies


Ou Koos is al weer dikbek en kyk van ver na Vanwyksvlei. Hy vryf oor sy lang onversorgde spierwit baard. Die dorpie en die ysterklip koppies dans in die hitte, dis al weer aaklige Desember.

“Hoe minder ek met die simpel mense te doen het hoe beter, ek HAAT hulle,” dink hy vir die soveelste keer.
Hy onthou met bitterheid die politieke struwelinge, die jaloesie oor sy meestersgraad, die skuld wat op hom gepak is na die dam gebreek het, toe dit tot Susara se dood gelei het, dat sy kinders dit alles glo en nooit hier kom nie.
Ongelukkig moet hy soms dorp toe loop om sy pensioen en pos te gaan haal en ook paar goedjies te koop.
Hier in sy modderhuisie is hy op sy gelukkigste, paar skape, die windpomp vir sy water met sy boeke en die kerslig saans. “Dan die simpel dominee, vir wat karring hy so aan my? As hy weer hier kom jaag ek hom weg!”
Koos gaan lê vir sy middagslapie in die kokende warm huis. Hy dut net in toe is daar ʼn klop aan sy deur. “Ag nee wat nou!”
Hy pluk die deur oop. Voor hom staan Annemarietjie, die dominee se blonde dogtertjie. “Ja, wats dit nou?”
“Oom, ek en my maatjies wil vir oom iets kom vra?” sê die voor-op-die-wa dogtertjie. By haar is Sarie en Annetjie. Koos skree op hulle, “Ek het niks met julle te doen nie, gaan weg!”
“Oom asseblief, en ons het vir oom ʼn geskenkie gebring,” sy hou ʼn mooi pakkie uit met ʼn rooi strikkie en ʼn briefie op. Die dogtertjies draai stadig om en stap die paadjie af terug na die dorpie toe.
Koos word doodstil, die pakkie weeg amper niks. Stadig maak hy dit oop. Hy lig die deksel op. Binne in is niks ... hy lees teensinnig die briefie:
“Liewe oom Koos,

Die geskenkie is net vir oom. Oom moet weet ons kindertjies is vir oom so jammer en bid elke dag net vir oom. Kyk mooi in die kissie, oom sal sien dit is stampvol, ek en Sarie en Annetjie het vir twee ure lank ons soentjies hier in geblaas net vir oom. Ons is so lief vir oom.
 
En oom, oom is mos die heel mooiste man in ons dorp, sal oom dit vir ons kom doen asseblief? Sien dit gaan so werk ...

***
Dis ou Kersaand, die kerksaaltjie is vol mense. Hulle sing, “Voel jy ook nou sy warm liefde, As ons die dag gedenk, Toe Hy sy Seun aan ons gegee het – Ons grootste kersgeskenk. Christus kom, Christus kom – gee aan God die eer. Skenk ons ‘n helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer.”
Op die verhoog is daar ʼn groot stoel, omring deur veelkleurige pakkies, sy lang wit baard hang oor sy helder rooi baadjie en al die kindertjies lag met hom en raak aan hom.

Hy lag vir die eerste keer in baie jare, trane van vergewing en versoening drup oor sy groot wit baard en op sy helder rooi broek ...


 
Geinspireer deur die kersverhaal van Fred Burks, The Gold Wrapping Paper. Erkenning aan Koos du Plessis.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

KATONKIE LEER VLIEG

Ons Kindervriend

Sprokie vir ‘n Woudkind